Ons Geskiedenis – Van ontstaan tot nou

Die A.P.K van Dendron is een van die eerste gemeentes wat in die Verre Noord-Transvaal tot stand gekom het. Hierdie gemeente word amptelik op Sondag 26 Julie 1987 met 77 lidmate deur prof. Willie Lubbe gestig.

Die eredienste is destyds in die plaaslike laerskool se skoolsaal gehou. In die begin en in die tye wat ons nie ‘n amptelike leraar in die pos gehad het nie, is die bediening van die Woord waargeneem deur Ouderling Kosie Grobbelaar.

Die eerste beroep wat die gemeente doen, word aangeneem en op 5 September 1987 word Ds en Mev Tonie Viljoen in die gemeente bevestig. Maar hy aanvaar 15 maande later ‘n beroep na Pretoria Sentraal. Die pos was daarna vir nege maande vakant.

Teen die einde van 1987 vind die eerste ringsitting van die ring van Dendron by ons gemeente plaas. ‘n Groot ideaal van die gemeente word verwesenlik met die aankoop van die pastorie vroeg in 1988.

Op 22 Oktober 1989 word Ds en Mev Danny Nel hier bevestig. In die tyd van hulle bediening beleef die gemeente groot seën en daar word hard gewerk om ons eie kerkgebou op te rig.

Die eerste sooi word gespit deur Oom Kersey Blofield en onder toesig van Oom Kosie Haasbroek - wat vandag die oudste lidmaat in ons gemeente is - word die gebou opgerig. Op 20 Julie 1991 word die kerkgebou amptelik in gebruik geneem.

In Junie 1992 word die vyfde bestaansjaar van die gemeente luisterryk gevier met ‘n funksie wat terselfdertyd ook die inwyding van die orrel is. Daar word ook begin met die bou van die  verbondsonderrig-lokale.

In Desember 1994 aanvaar Ds Nel ‘n beroep na Groblersdal en ses maande later op 3 Junie 1995 word Ds en Mev Müller in die gemeente bevestig. Die egpaar werk in die gemeente tot 30 April 1997 waarna hul ‘n beroep aanvaar na die kombinasie Hertzogville – Bultfontein-gemeente. Weer is die pos vakant vir ‘n geruime tyd tot 10 Januarie 1998 toe Ds en Mev Gert Visser hier bevestig word. Hulle dienstermyn eindig toe hy ‘n beroep na Olifantshoek aanvaar op 18 Februarie 2001.

Op 29 September 2001 aanvaar Ds en Mev Petrus Janse van Rensburg die beroep na die APK Dendron.

Onder hulle leiding ervaar die gemeente groot seën met die vestiging van ons Timotheus projek.

Die lidmatetal is in die stadium rondom 180 belydende en 80 dooplidmate.

Die eerste Kerkraad het bestaan uit 12 ouderlinge en nege diakens. Ouderling Johan Olivier was die eerste voorsitter van die raad en het ‘n groot rol gespeel om alles ordelik te laat verloop. Die eerste leierdiaken was Carel van der Merwe.

Ons is baie trots op ons eerstes:

Eerste dopeling: Anastasia Winterbach
Eerste huweliksbevestiging (na stigting): Johan en Malie Badenhorst (in die skoolsaal)
Eerste huweliksbevestiging in nuwe kerkgebou: Pieter en Michelle Becker
Eerste begrafnis: Michelle Becker se ouma – Bessie Swanepoel
Eerste saakgelastigde: Joan Smith
Eerste koster: Ansie Visagie
Orrelis: Mev Ans Becker (1987 tot 2011)

Ons is baie dankbaar vir ruimhartige skenkings wat bygedra het om ons kerk te ontwikkel.

Stene vir die kerksaal: Carel van der Merwe
Nagmaaltafel: Hannes du Preez
Kateder: Hein Stiemie
Doopvont: Oom Pieter Becker
Orrel: Johan en Ans Becker
Luidsprekerstelsel: Pieter Becker
Kerkklok: Neil Blofield

Die Dendron-gemeente ondersteun graag ander gemeentes in die omgewing, soos Messina, Weipe-Alldays en ook die Louis Trichardt-gemeente.