SENDING & EVANGELISASIE

jesus-3135229_1920

Sameroeper: Owen Eagar

DEFINISIE: Die vermoë om die evangelie aan ongelowiges te bring op so ‘n helder en betekenisvolle wyse dat dit reaksie ontlok ~ Efes. 4:11

EVANGELISERING AS GENADEGAWE

Hierdie is die Genadegawe (GG) wat ons toenemend in ons kerke sal sien soos ons samelewing al hoe meer verheidens. Onthou: die Here gee GG vir mense met die oog op wat nuttig is. Almal van ons ken mense, dalk selfs familie wat totaal kerklos geraak het en allerlei slim argumente het om dit te verdedig. As hierdie dinge u ontstel het God dalk net juis vir u afgesonder om al Sy afgedwaalde skape bymekaar te maak. En as Hy dit gedoen het sal Hy u ook daarvoor bemagtig. Moenie langer wag nie. Bemagtig uself met kennis. Aanvaar u opdrag. En wen siele vir die Here.

Aan die begin van die kerk se geskiedenis was hierdie ‘n baie belangrike GG. Sommige is afgesonder om net onder die Grieke te werk en ander weer net onder die Jode. Rom 1:16. Hoe dit ook al sy: moet op hierdie terrein net nooit met ‘n geestelike meerderwaardigheid die evangelie wil verkondig nie. Onthou ook dat geen mense “oortuig” kan word om Jesus as Saligmaker aan te neem nie. Ons kan bloot deur God gebruik word om te lei. En dan moet ons deur gebed God toelaat om harte te verander.

Onthou gerus Paulus se beginsel in 1 Kor. 9:20: “Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win. Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet – al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus – om die wat sonder die wet is, te win”

 

KENMERKE  VAN DIE PERSOON MET DIE GAWE VAN EVANGELISERING

Indien ek hierdie gawe ontwikkel het:

  • gesels ek dikwels sommer spontaan met mense, dikwels vreemdelinge wat die Here nie ken nie.
  • weet ek al dat die Here my gebruik het om ander nader aan Hom te bring of dalk terug na Hom te bring.

Indien ek oor die potensiaal van hierdie gawe beskik:

  • dan spreek dit my ernstig aan wanneer ek ‘n familielid sien wat begin afdwaal.
  • dan het ek gewoonlik die brandende begeerte om mense na Jesus terug te bring.
  • dan wil ek soms iemand van die Here vertel, maar voel te skaam en is dan later spyt dat ek nie maar tog het nie.

 

GEBRUIKE VAN DIE GAWE VAN EVANGELISERING

Persoonlike/informele gebruik

  • lees na oor hierdie onderwerp
  • begin juis op die vlak jou GG “oefen”
  • praat met vriende op informele vlak
  • soek geleenthede om hierdie gawe uit te leef.

Dienswerk binne die kerk

  • raak betrokke by ‘n evangelisasie aksie. Indien daar nog nie een is nie – dink aan maniere hoe u dalk kan leiding neem, veral as u ook ‘n gawe het soos bv. leierskap of organisasie.
  • maak werk van die afgedwaaldes in die kerk. Bel hulle. Wanneer u hulle wel by die kerk sien, laat hulle tuis voel.
  • ons het ‘n groot taak om die kerklos en kerkloos mense in die samelewing terug te bring. Soek hulle op. Bring hulle nader.

Gemeenskap georiënteerde dienswerk vir Christus

  • deur op die eerste bousteen van ‘n samelewing te konsentreer belê jy eindelik in die ganse samelewing. Bring mense terug na God. Maak hulle vas aan Hom. Dink dalk aan projekte wat u kan loods op ‘n “onskuldige” manier – maar eindelik met die doel om te evangeliseer.
  • ‘n Sopkombuis by ‘n skool in ‘n minder gegoede buurt, of enige ander manier om ‘n middel tot ‘n doel te gebruik mense by Jesus uit te kry. Situasies is uniek: gaan dink aan waar God u op ‘n unieke manier kan gebruik.

 

GEVARE

  • dat die middel tot die doel bv sopkombuis groter raak as die eindelike doel en jy eindelik net besig is met sosiale opheffingswerk.
  • dat jy self mense wil oortuig en God nie toelaat om harte blywend te verander nie.
  • dat u moedeloos raak omdat u verkeerde metodes gebruik.